Voel selfs beter as wat ek lyk! - July 2010
Elbie Scheepers
Weight Watchers Member

Nadat ek Desember 2006 besluit het om af te tree, het die ontspanne lewe met ‘n nuwe roetine sy tol begin eis en het ek – altyd geneig tot oorgewig – stelselmatig net meer kilo’s aangesit. Kersfees 2008 was ek reeds 30kg oorgewig en het ek besef dat ek dringend gewig moes verloor. Ongemak, lelik vir myself, verhoogde bloeddruk en gewrigs- en rugpyne het my ernstig aangespreek en het besef dat my lewensstyl drasties moet verander. Ek het aangesluit by die stapklub. Elke staptog was vir my ‘n nagmerrie omdat ek te veel gewig saamgedra het en dit was ‘n groter marteling as plesier. Ek het as gevolg daarvan ook nie met dié oefening volgehou nie.
Gedurende die winter van 2009 het ek tot die duidelike besef gekom dat ek nie bereid is om as ‘n 30kg oorgewig vrou my 60ste verjaardag aan die einde van November te vier nie. My doelwit was dus om teen die einde van die jaar baie kilo’s te verloor, dat ek beter moes lyk vir myself, maar veral beter moes voel. In Julie 2009 het ek eindelik in aanraking gekom met Weight Watchers op Kleinmond en op 22 Julie 2009 met ‘n doelgerigte, positiewe benadering met die program begin.
Met my groepleier Lorraine van Aarde se hulp en ondersteuning het ek onmiddellik begin gewig verloor, en vier maande later - met my verjaardag – reeds 14 kg afgeskud. Ek het met die Here se genade en bystand my positiwiteit deurgaans behou en die vrugte bly pluk. Aangesien dit so ‘n maklik volhoubare dieet is, het dit nog nooit vir my soos ‘n straf gevoel nie en my man het my grootliks ondersteun deur dieselfde kos as ek te eet. Hy het sy bederfies geëet soos en wanneer hy wil, maar dit het nooit gevoel asof ek ingedoen word nie. Danksy die plooibaarheid van die dieet kon ek altyd my dieet aanpas by my aantal beskikbare punte.
Teen einde April 2010 weeg ek 22kg minder en werk nog aan die laaste paar kilos. Wanneer mense vir my sê “Jy lyk so goed, wat het jy gedoen!”, kan ek maar net antwoord dat Weight Watchers my gehelp het om ‘n gesonde lewensstyl aan te leer en dat ek selfs BETER VOEL AS WAT EK LYK!.
Elbie Scheepers, 61
Member
Kleinmond WWSA